27 May 2004

Brief - Laevelder

Gelowiges moet eerder hande vat
 
5/27/2004 1:17:00 PM
Ek reageer graag op die brief van Wieko Waldemar in Vrydag 14 Mei se Laevelder. Vergun my enkele opmerkings oor die skrywer se aanval op die NG-kerk in "Leser gee sy mening oor die doop".

Dit is jammer dat die doop weereens `n saak is wat verdeeldheid saai onder mense. Ek het dan gedink ons as Christene in Suid-Afrika het nou al "groot" geword en dat daar ander sake is wat eerder aandag moet kry as gesprekke en verdeeldheid oor die doop.

Interressant dat die Hebreër-skrywer die sake soos die doop, as sake beskou wat nog by mense pas wat "onervare in die woord van geregtigheid" is en nog "melkkos" eet (Heb.5:12-6:2). Sake soos God se barm-hartigheid teenoor mense, soos dat ons die evangelie moet verkondig aan alle mense, soos die eis om onreg uit te roei in die samelewing, is sake wat eerder aangespreek moet word. Nou val ons weereens vas oor twisgesprekke oor die doop en maak ons die Christendom bespotlik vir die wêreld.

Die skrywer suggereer dat die NG-kerk met sy leer oor die kinderdoop dalk `n vals kerk kan wees (skrywer se verwysing na Gamaliël in Hand.5 en Mark.7:7). Ek lees egter dat die maatstaf waarmee `n kerk geoordeel word of dit waar of vals is, is of Jesus Christus as God se Seun en Verlosser verkondig word. Ek kan met eerlikheid sê dat ek as leraar nog nooit enigiets anders verkondig het as die opgestane en verheerlikte Jesus Christus as Verlosser nie. En ja, dit sluit die opstanding van Jesus in!

Ek is ook oortuig daarvan dat dit die geval is in 99% van die NG-gemeentes. Dit is in elk geval waar ten opsigte van die amptelike uitsprake en belydenisskrifte van dié kerk. Ek glo dus met my hele hart dat die NG-kerk `n ware kerk van Jesus Christus is.

As ons egter na die grondwaarhede van ons geloof terugkeer, moet ons kyk na verlossing en die kern van die Bybelse boodskap. Die kern van dié boodskap is God se liefdevolle handelinge met die mens.

Oor God se onpeilbare liefde vir die mens lees ons reeds vanaf die eerste bladsy van die Bybel. Uiteindelik gee God self die oplossing vir ons sondelas deurdat Jesus daarvoor kom sterf. Oor die eeue heen het mense dikwels plustekens by Jesus se verlossing bygesit.

Verskillende voorbeelde van verlossing is: Jesus plus geld, kerkbywoning, wettissisme, kinder/groot doop, volksverband, taal, wat gesing word ensovoorts.

Ons kan natuurlik enigiets byvoeg, maar die punt is dat verlossing slégs Jesus Christus is. Geen plusse nie.

Die oomblik wanneer ons `n plus byvoeg, ontneem ons natuurlik Jesus se volkomendheid as offer vir ons sonde. Waaroor behoort dit dus te gaan?

Die verkondiging van die blye evangelie van Jesus se offer as verlossing van ons sonde. Leerstellinge soos die doop, of die nagmaal en wie daaraan mag deelneem ensovoorts, vorm myns insiens nié die kern van die Bybelse boodskap nie en verander dus nie aan die feit of ek verlos is of nie.

As dit doop sou wees, en dan `n spesifieke doop met `n spesifieke hoeveelheid water, dan sou die man langs Jesus aan die kruis egter uitvind dat hy toe nié saam met Jesus in die paradys is nie.

Die doop, groot sowel as klein, is `n teken wat God vir ons gee om ons swakheid en kleingeloof tegemoet te kom. Dit voeg niks by by Jesus as Verlosser nie.

Op die Regterstoel gaan God nie vra wie is hoe gedoop nie, maar of Jesus as Verlosser aanvaar is. Ek sou dus eerder wou sien dat gelowiges hande moet vat, verdeeldhede en rusies oor "melkkos-sake" los - want dit is sonde (Gal. 5:19-21) - en meewerk aan die koms van die Koninkryk van God in hierdie land.

So sal ons meewerk aan die verhoring van Jesus se gebed in Joh.17:11, 21: "Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. ...

Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het."