02 September 2007

Dis gevaarlik om kerk toe te gaan

Vandag se preek-tema was: "Dis gevaarlik om kerk te mis". Wel, dit was eerder 'n geval van Dis gevaarlik om kerk toe te gaan!

Dis gevaarlik om kerk toe te gaan as :
  1. die preek nie is wat die teks wou sê nie.  Die teks was die gedeelte oor die ongelowige Thomas wat eers wou glo as hy sy vinger in Jesus se hande kan steek; en toe wel die geleentheid daartoe kry.  Sluit dan af met die belydenis: "My Here en My God".

    Die preek, met 'n verwysing na Hebr 10:28, daarenteen het gegaan oor 
    • hoe belangrik dit is dát ons kerk toe moet gaan
    • hoe 'n mens nié kerk toe moet gaan nie
    • en hoe 'n mens wél kerk toe moet gaan

  2. die preek bedoel is om 'n mens skuldig te laat voel. Ons word immers uit genade gered en is derhalwe vrygemaak van mensgemaakte "moets en moenies" oor geloof (sien blogs oor genade).

    Op een punt is gesê dat ons eintlik reeds saterdagmiddag, soos die sabbat van Israel, moet begin om ons gereed te maak vir die erediens sondag. Ek het begrip vir die gedagte, maar dis 'n verkeerde klem.  Keer ons dan nou terug na die gedagte dat 'n Sondag anders as alle ander weeksdae is en God net dáár ontmoet kan word? Dis waar Jesus se vervulling van die wet (anders gestel, wettisisme), 'n verskil kom maak het.

    Die ander bekende manipulasie-uitspraak om mense te verhoed om kerk te skip is om te sê dat die Here met jou 'n afspraak het. Ek koop nie meer dié gedagte nie omdat ek in 'n persoonlike verhouding met Jesus is (en dus God as Vader het). Ek en Hy is dus gereeld met mekaar in gesprek en hoef dus nie 'n afsrpaak met mekaar te hê nie. Ek mag dalk 'n afspraak met mede-geloofsgenote hê, maar dis iets anders! Kerk is bedoel om 'n bevrydende geleentheid te wees, nie 'n verswarende, bedrukkende een nie.

    Die ander opmerking was dat ons nie kerk mag skip om wildtuin toe te mag gaan nie. Met so 'n erediens soos vanoggend, sou die wildtuin 'n beter "erediens" gewees het as die kerk self. Natuurlik kan ons 'n ontmoeting met God hê in die natuur. Daar is immers verskillende spiritualiteite (sien Rick Warren hieroor - ek sal later hieroor blog).

  3. jy onvervuld en omgekrap daaruit stap omdat jy geestelike gemanipuleer is, oftewel Bible bashing ervaar het.

Ek sal nie ophou kerk toe gaan nie. Dis net jammer dat soveel gelowiges nie die vryspraak in Christus in vreugde kan beleef, wat deur die genade bewerkstellig is, omdat te veel preke eerder daarop uit is om ons te laat skuldig voel, te belas, as om ons vry te maak en vry te spreek.

Sola Gratia, Sola Scpritura !

***

29 August 2007

Meer genade ! Genade # 3

In 3 blogs is oor die genade geskryf. Wat kan ons nou doen om die genade meer te laat word in ander se lewe, in plaas daarvan om "grace killers" te wees (Charles Swindoll - Grace Awakening).


Rom 14 gee vir ons 'n paar aanduidings...
  1. Rom 14:1-4 : Aanvaar ander mense.
    • Dit beteken in 'n sekere sin om ander hulle gang te laat gaan
    • Gee ander die vryheid om anders te doen as wat ons doen; anders te dink ens. Moenie diegene verag wat groente eet nie; en vice versa; m.a.w. ander dinge doen as wat ons meen nie.
    • Jy is spesiaal; laat ander toe om net so spesiaal te wees.
  2. Rom 14:5-8 : Gun die Here om ander se lewens te rig
    • Dit kan alleen gebeur as ons nie aan ander voor skryf hoe om te leef / wat om te doen nie
    • Moenie namens iemand besluit nie - laat hulle dit self doen
  3. Rom 14:9-12 : Ons is nie bevoeg om ander te oordeel nie
    • Ons ken nie al die feite nie
    • Ons ken nie al die motiewe nie
    • Ons kan nie heeltemal objektief wees nie
    • Ons ken nie die groter prentjie nie
    • Ons is self onvolmaak
  4. Rom 14:13-18 : Om ander lief te hê
    • Ons doelwit is om die Here te behaag. Dis niks anders as om ander lief te hê - onvoorwaardelik!
    • Ek aanvaar jou dus omdat jy uniek is, nie omdat jy is soos ek is; of doen wat ek sê nie.
  5. Konsentreer op dinge wat vrede aanmoedig
  6. Die afbreek van ander doen aan God se werk skade
  7. Beoefen jou vryheid saam met dié wat dit saam met jou kan geniet
  8. Weier om "God" te speel in ander se lewe.


***

25 August 2007

Wat is vryheid - Genade # 2

Genade vervolg : My opsomming van Charles Swindoll se “Grace Awakening”.

Vorige keer afgesluit met die vraag wat vryheid is? Ons is uit genade gered tot vryheid. Baie gelowiges is bang vir die Christelike vryheid omdat hulle meen dis ‘n verskoning om “mal” te gaan en net aan te hou sonde doen. In ‘n sin is hulle reg? Ware genadeverkondiging klink inderdaad of ‘n mens “sag” is rondom sonde; dit klink asof ‘n mens sê jy kan maar “mal” gaan. Trouens, die gemeente in Rome het dieselfde vraag vir Paulus gevra: “Moet ons dan nou aanhou sonde doen sodat die genade kan meer word?” (Rom 6:1 ev). Natuurlik nie. Indien jy sou, verstaan jy natuurlik nie wat met Jesus en sy lydensweg gebeur het nie. As jy dít verstaan, kan jy nooit mors met sonde nie, want dit het Jesus se lewe gekos om jou te red van die ewige dood! Hoe kan ons dan verhoed om nie die genade te vermors nie?

  1. Waak teen uiterstes in jou lewe, byv. moenie te veel eet, drink ens nie. ‘n Gebalanseerde lewe is ‘n teken van die vryheid waarin ons lewe.
  2. Besef dat genade 'n voorreg is. Jy het dit nie verdien nie (Eff 2:8-10). Jy’t geen bydrae gelewer nie.
  3. Onthou, dit het Jesus sy LEWE gekos
  4. Goedkoop genade maak die sonde reg, terwyl duur genade die sondaar reg maak. God verwerp nooit die sondaar nie, maar wel die sonde.


Wat is die vryheid dan?


God wil hê ons moet die lewe geniet; én ander help om die lewe te geniet. Om dit te kan doen, moet ons leer wat vryheid is. Kom ons kyk na Rom 6 waar die Romeine die vraag gevra het.


Rom 6:1 (eerste vraag) Moet ons aanhou sonde doen?
  • Die vraag spreek diegene aan wat nie in vryheid wil / kan leef nie.
  • Hulle is oorbewus van sonde en mislukking in hulle lewe.
  • Hulle konsentreer so op die sonde, dat hulle hulleself vir mislukking voorberei.
  • In plaas daarvan om die voordele van hulle vryheid onder God te beoefen, hou hulle aan om onder die oorheersing van die "ou natuur" te leef.
  • Ons is vry gemaak van ons vorige meester - die sonde
  • So, watter verskil maak die genade dan? Genade maak dit moontlik om te kan kies. Voor Christus het ons geen keuse gehad nie. Voor genade, kon ons nie anders as om eenvoudig te doen wat ons sondige natuur wou nie (Rom 7). Na genade, kan ons kies om voort te gaan om aan ons sondige drifte gehoor te gee; of ons kan kies om God in gehoorsaamheid te volg. Genade maak ons vry van die vereiste om te sondig. Genade maak dat ons Christus se aanwysings vrywillig kan volg:
    1. kies die Bybel en geniet 'n lewe vol seëninge;
    2. Kies die sonde en dra die gevolge van ongehoorsaamheid.
  • Ongehoorsaamheid kan 'n lewenstyl word.
  • Genade beteken nie dat jy vry is om te lewe hoe jy wil nie, maar dat jy vry is om te kies tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid.
  • Ware vryheid is om te kies om God te behaag.



Rom 6:15: (tweede vraag) Moet ons nou doelbewus sonde doen...
  • Dis die vraag van diegene wat sonde wil rasionaliseer en wil maak wat hulle wil.
  • Genade mag nooit die dekmantel word vir vryheid sonder grense nie. DIs niks anders as ongehoorsaamheid nie
  • Grense bring juis volkome vryheid
  • Rom 6:19-23 impliseer dat die mens iemand met gesag nodig het. Ons vaar nie goed as mense sonder iemand in gesag oor ons nie.
  • Hoe ons dus leef hang af van die Meester wie ons kies.
    • As dit Christus is, is dit vryheid
    • As dit die sondige natuur is, is dit verslawing en wettisisme.
  • Dis belangrik om die regte keuse te maak.
  • Fokus op die voordele van ons nuwe identiteit nl
    • Skuldvrye lewenstyl
    • Ewige lewe
  • Die nadele van verkeerde keuse is:
    • Verbreking van die gemeenskap met God
    • Verlies van seëninge
    • Skuldige gewete
    • Verlies aan persoonlike integriteit
    • Geen geestelike groei
    • Gestremde verhoudings met mede-Cristene
    • Skade aan jou getuienis as christen.


Sonde kan vergewe word, maar die "littetekens" gaan nie verdwyn nie. Gebruik die vryheid met verantwoordelikheid. (1 Kor 8; 1 Kor 10:23-31; Gal 2:4; Gal 5:1-11; 1Pet 2:16)

Skeefgetrekte godsdiens

Preeknotas uit ons kerk met my aanvullende gedagtes.

Hoe lyk godsdiens wat skeef loop?
  1. Manipulerende preke / oproepe om betrokkenheid
  2. Veroordelend
  3. As dit nie mense vrymaak nie
  4. As daar nie meer by die Woord gebly word nie

Op die oog af sal baie gemeentes waarskynlik dink dat hulle darem nog nie "skeefgeloop" het nie, maar by diepere ondersoek moet ons dalk ernstig hand in eie boesem steek. Te veel kere kom hierdie "tekens", soms almal voor in gemeentes en/of prediking.

Manipulerend
Dit kom dikwels baie subtiel voor, maar wanneer gelowiges voel dat hulle emosioneel verplig word om betrokke te wees, dan was daar manipulering. Talle gelowiges het al getuig van manipulering; hetsy d.m.v. kerkbywoning, betrokkenheid of geloofsekerheid is. 'n Ander term wat ek al gehoor het by gelowiges wat hieroor kla is, "bible bashing". Wanneer mense die Bybel gebruik (misbruik) om jou moreel by te kom of jou skuldgevoelens te verhoog.

Manipulering klink so: As jy nie sondae oggende in die kerk sit nie, kan jy nie 'n christen wees nie. Kerkbywoning is nie onbelangrik nie, maar dit mag nooit 'n meetstok vir Christenskap wees nie. Ons het 'n verhouding met Christus en dáárom gaan ons kerk toe. Ons gaan nie kerk toe om ‘n verhouding met Christus te hê nie. Anders gestel: ek het ‘n verhouding met my vrou en daarom het ons kinders. Ek probeer nie kinders kry om ‘n verhouding met my vrou te bewerkstellig nie (hoewel sommige mense wel dink dit moet so om gebeur :->).

Kom ons weerhou ons van manipulerende uitsprake in die kerk!

Veroordelend
Ook hiervan getuig talle gelowiges. Dit klink gewoonlik só: Jy kan nie ‘n christen wees as jy nie dié of daai doen nie. Dit is gewoonlik die ekstreme voorbeeld wat so reguit voorkom. Dit gebeur eintlik baie meer subtiel, dikwels nie eers in woorde omgesit nie, maar die veroordelende houding is duidelik sigbaar - ignorering, skeef aankyk, uitskuif, onwelkom gevoel ens.

Kom ons laat die oordeel aan God. Ons is eenvoudig nie bekwaam genoeg om dit te doen of om alles van almal te weet nie.

Maak mense nie vry nie
Verlossing uit genade is immers bedoel om ‘n mense vry te maak, vry van die slawerny van die duiwel. Voorheen het ons net gedoen wat ons natuurlike drange ons gelei het om te doen (ons was beheer deur ons sondige natuur). Maar nóú word ons beheer deur die Gees. Oftewel, ons het nou ‘n keuse om nie meer ons sondige natuur na te volg nie. Ons kan nou kies om “actually” gehoorsaam te wees. Dis wat ons genade noem. (Rom 8:4-13; Gal 5:16-24 ens).

Die ander realiteit van genade is dat ons niks kan bydra tot ons verlossing nie. Dit was 100% God se werk in en deur Jesus Christus. As ons ‘n bydrae sou kon lewer, was Jesus se lyding immers verniet (Eff 2:8-10).

Genade het ons dus vry gemaak van die slawerny van sonde, en van die slawerny van mensgemaakte reëls en voorwaardes vir christen-wees.

Te veel gelowiges is nog glad nie vry nie en spook hul hele lewe om God se guns te wen deur allerhande bykomstighede en aktiwiteite. Aktiwiteite is wonderlik as dit uit dankbaarheid gedoen word, maar as dit gedoen word om jou verlossing “aan te vul”, is dit niks anders as wettisisme nie, en dus verslawend.

Julle is vrygekoop! Gaan leef as vrygemaaktes!

Nie meer Woord gebonde nie
Kyk maar net rondom jou en jy sal verbaas wees hoeveel gelowiges nie meer gebonde aan die Woord leef nie. Daar is ‘n totale verwarring onder ons oor etiese sake; sake soos aborsie, prostitusie, geld verduistering, homoseksualisme ens. Die kerk praat nie eens meer uit een mond wanneer dit oor dié sake gaan nie. Voeg daarby talle gelowiges wat gewoon nie meer die Bybel opneem en “soos ‘n kind” glo nie, wat Bybeltekste heeltemal wegredeneer omdat dit nie meer inpas by ons ge-emansipeerde wysheid nie, en ons het ‘n resep vir verwarring.

Daarmee bepleit ek nie die letterlike verklaring van die Bybel nie (sien blog oor Skrif interpretasie). Dis gewoon onhoudbaar omdat daar verskeie faktore is wat verwydering skep tussen die Bybelteks en omgewing en vandag en omgewing. Die Bybel - nie letterlik nie, maar weliswaar gesagvol. Verantwoordelike Bybellees relativeer nie die Bybel nie, maar behou die gesag van die Bybel as die betgroubare en gesagvolle Woord van God. As ons nie vanuit hierdie basis begin praat nie, is daar eintlik geen gesprek meer oor nie omdat ons dan in verskillende ”wêrelde” leef.

Hierop sal ons moet terugkeer as ons nie ons godsdiens skeef wil trek nie. En skeef het dit al beslis geword.

Moenie mense manipuleer om jou interpretasie van geloof na te volg nie. Stel mense vry en vertrou die Here se “besig wees” met elkeen op Sy tyd en manier.
Moenie mense veroordeel nie. Ons het eenvoudig nei al die inligting oor elke saak nie, en ons is nie God nie.
Moenie mense verder ons ‘n slawejuk van skuldgevoelens indryf nie. Kom ons maak mense eerder vry om uit genade te leef
Bly by die Woord, geïnspireerde Woord van God wat ons help om ‘n bekwame lewe te leef (2 Tim 4:17).

***

20 August 2007

Less is more

Inleiding

Ons leef in 'n tyd waar "goeters" vreeslik belangrik geword het.  Meeste van ons spandeer al ons energie / tyd / gedagtes aan die rotresies om ons materiële lewe in stand te hou.  Ons kan nie wag vir die "upgrade" van ons selfone om die nuutste / beste / grootste te hê nie.  Ons is meesters om onsself (en ander) te oortuig waarom ons moes "upgrade" na die nuutste / groter model kar. 

Ongelukkig dra die moderne bemarkingsmetodes daartoe by dat ons val vir hierdie "leuen" van die duiwel - dat ons lewe lekker en beter sal wees as ons meer het.  Die advertensies skep dikwels 'n behoefte wat onsself nie eers geweet het ons het nie.  Die "tele-marketing" smeer produkte aan ons af wat ons nie nodig het nie; of val jou letterlik aan dat jy nou só “stupid” kan wees om nee te sê vir die produk wat hulle pas aan jou wou verkoop.

Al gewonder hoekom kettingwinkels gereeld hulle rak-plasings verander - iets wat my grensloos kan irriteer as ek doelgerig na ‘n rak stap om “charcoal en Blitz” te gaan koop, en die rak se plasing het van gang 2 na gang 8 verander.  Hulle doen dit sodat jy net dalk iets sien op die ou plek wat jy dan ook koop.

Daar’s ‘n advertensie wat spot met die "less is more" beginsel en eindig met die woorde: "maybe more ís more".

Interresante paar opmerkinge op ‘n internet-blad (37signals) :

==> “Less is More” implies that more is better. It’s not. Less is less. Less is just right. Less is better.
==>; I’d rather be able to get by on less money and have less money. ... So, yeah, less is less is true with money also.
==> The point being you should maximize profit by minimizing waste so you put yourself in the position of wisely using the fruit of your labor instead of scrounging for fruit.
==> I agree that being able to live on less is a good thing, but that doesn’t mean you should make less. Make more then use it to help people.
==> How about, “less is more less than more.”
==> If you have too much money, you can choose give it away. If you have too little, you have no choice but to starve. So forget less and more. Think Occam’s Razor. Think enough.
==> “Less is more” is ...(rubbish), because it implies that we’re still actually going after “more.” My own solution to it was a completely different state, which I believe, communicates the point more effectively: More from less
==> Do more with less - Howzat?


Wat sê die Bybel?

In ‘n poging om antwoorde te soek, het ek die volgende klompie verse (nie naastenby alles oor die onderwerp nie) opgespoor:

Mat 6:19-21, 24 
Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. ... Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie. (Die Bybel  : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (Mat 6:19). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)
  • Maak vir jou skatte bymekaar in die hemel.  Daar is geen "hijackers" nie; daar kan dit nie verniel en waarde verloor nie; daar het jy nie sekuriteit nodig om dit te beskerm nie.  Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
  • Al gewonder hoeveel kos die sekuriteit ons?  Neem 'n gemiddelde van R300/mnd vir 'n "Armed Response" diens, en 'n kleinerige dorpie se hoeveelheid huise, kom ons sê 2000.  Dan beloop 'n klein dorpie se sekuriteits-omset R600,000 per maand.
  • Maar ek kan nie my kar en my huis in die hemel bêre nie.  Wat beteken dit dan?
  • Dit gaan dus daaroor dat ons ons energie / aandag / tyd moet fokus op "goeters" wat ewigheidswaarde het; soos my kinders, huwelik, familie, ouers, broers & susters, verhoudings.  Die Bybel he tnie noodwendig 'n probleem met ons "goeters", soos ons karre en huise nie, maar wel oor die fokus, die energie waarmee ons daarmee besig is.  Ons aardse "goeters" is dalk eerder tot ons beskikking om die Koninkryk daarmee te dien (sien latere verse).


Luk 12:13-21
13Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.” 14Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?” 15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”
16Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. 17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ 20Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ 21So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.” (Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (Lu 12:13). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)

  • Dit wat ons op aarde bymekaar maak is nie ewig nie. Dit kan in ‘n oogwink verloor word; soos ons onlangs gesien het met die brande in Sabie waar ‘n hele saagmeule afgebrand het - die lewensonderhoud en hele lewe van talle mense.
  • Dis ‘n valse sekuriteit om te dink die hoeveelheid bates of “goeters” sal my veiligheid / rustigheid / vreugde waarborg.


Eks 16:1-21
Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. 16Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent. 17Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ‘n bietjie, 18en toe hulle dit met ‘n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ‘n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak. 19Moses het toe vir hulle gesê: Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie. 20Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. (Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (Ek 16:15). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)

  • God sorg vir Sy volk. Dieselfde belofte kry ons in Mat 6:25-31.
  • Genoeg!, wat hulle nodig gehad volgens elkeen se individuele behoefte. Nie oorvloed nie.
  • Dit wat wou opgaar, het dit verloor.


Mat 19:16-24 – Ryk jong man
16Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” 17Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” 18“Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, 19eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 20“Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?” 21Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” 22Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ’n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. 24Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.” (Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (Mat 19:16). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)
  • Hoe meer jou lewe gefokus is op die “goeters” in jou lewe, hoe moeiliker is dit om te gee, om die hemelse skatte te soek, om God se beginsels na te kom.
  • Ons het dalk die rykdom t.w.v. ander? God sorg vir ander / armes, nie deur geld uit die hemel te laat val nie, maar net dalk deur jóú beursie.


2 Kor 8:13-15 & Hand 4:34-35
13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:
       “Dié met baie, het nie
        te veel gehad nie,
        en dié met ’n bietjie,
        nie te min nie.”
(Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (2 Kor 8:13). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika)

34Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. (Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (Han 4:34). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)

  • Dit lyk asof God verkies dat daar balans in die gemeenskap moet wees.
  • Ek het nog altyd gedink dat die VREESLIKE gaping tussen rykdom en armoede in ons land, in die wêreld sekerlik nie Bybels kan wees nie. Goed, almal is nie kinders van God nie, maar dan in ‘n gelofosgemeenskap kan dit sekerlik nie Bybels wees nie. Is dit nie die oorlog wat ons tans belef nie - die oorlog tussen die “have’s” en die “have not’s”?
  • Mense werk in talle huise as hulpe vir vanaf R1,500/mnd terwyl een kruideniersware inkopie op ‘n Saterdag die totale maandelikse inkomste van so ‘n hulp kan verteenwoordig. Hoe moet dit vir so ‘n persoon voel om in ‘n huis te werk waar hulle maandelikse inkomste soms deur die kinders vermors word op luukshede?
  • Ja, daar is talle argumente vir ongelykhede in opvoeding, IK, ambisie, luiheid ens. En ja, daar is sekerlik ook vele argumente vir en teen die “leer hom om ‘n vis te vang eerder as om hom 1 te gee”-beginsel van gee. Maar iets is iewers nie pluis nie?
  • Dit bring ‘n mens dan by die ekonomiese bestel, waaroor daaroor rewolusies en oorlogte al gevoer is. Sosialisme of Kapitalisme, demokratiese-sosialisme, vrye-mark, kommunisme? Het iemand vir ons antwoorde hierop?

1 Tim 6:9-10
6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. (Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (1 Ti 6:6). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)
  • Geld het die vermoë om ‘n mens maklik in sy greep te kry.
  • Is die wortel van vele kwaad. Hoeveel huwelike is nie al opgebreek t.w.v. / a.g.v. geld nie? Hoeveel mense is nie al bankkrot verklaar omdat hulle in goedertrou borg geteken het vir ander nie? Hoeveel mense is nie al uit al hul pensioengeld verneuk nie? Hoeveel is nie al vertrap, emosioneel geruïneer a.g.v. geld (en mag) nie? Sex, power & money.

Fil 4:11-13
11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. 12Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (Fil 4:11). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)
  • ’n Mens moet die vermoë aanleer om vergenoegd te wees in jou omstandighede, dié wat jy nie kan verander / verbeter nie.
  • Wie en wat ons is, lê in God se genade. Alles kom van God.


Slot

Punt is, dit lyk asof die Bybel iets vir ons wil sê oor

  • ‘n balans in die wêreld. Die gaping tussen rykdom en armoede lyk wêreldwyd net te groot.
  • gee, help die armes, weduwees en wees. Ons sal hulle immers altyd by ons hê.
  • Fokus op die ewigheidswaarde-skatte, nie die goed wat “hijackers” so maklik vat nie.
  • Pasop vir geldgierigheid, opgaar-sindroom. Dit kom soos ‘n dief in die nag.
  • Kom ons leer ook, te midde van ons ambisie en harwerkendheid, om vergenoegd te wees.
  • Travel lite”. Dalk is minder wel genoeg!


***

16 August 2007

SKrifgesag en die Nuwe Hervorming

Johan Kriel maak 'n paar interressante opmerkinge in 'n internet-brief in die Kerkbode (Wat Skrifgesag met die Satan en Homoseksualisme te make het. 13 Augustus 2007). Ek haal aan:
Dit lei nie die minste twyfel nie, dat die kerk se interne vertwyfeling oor die verstaan van die Skrif en die gesag daarvan, asook die meegaande etiese dilemmas waarin dit die kerk gedompel het (en die ontgogeling wat dit by lidmate tot gevolg het) begin het ná die kerk se omarming van die evolusieteorie as die juiste verstaan van die oorsprong van alle dinge.

Hierdie evolusionistiese voorveronderstelling het die Bybel op sy kop gekeer...

Wat bly dan oor? Is God sélf nie ook maar net ‘n verbygaande idee van ‘n evolverende mensdom nie? Is Hy bloot dit wat elkeen van ons van Hom wil maak? ...

Interressant omdat dit presies die konsekwensie-lyn is wat Wedergestorwe Christen (WC) gevolg het en inderdaad gekonkludeer het dat God nie bestaan nie (Gericke, JC. 2003. Does Yahweh exist? ...). Hy skryf dat hy 'n konserwatiewe, fundamentalistiese jong teologie student was wat, deur die loop van jare en studie, uiteindelik ontdek het dat God nie bestaan nie omdat (in kort), die OT te veel kontradiksionerende gegewens oor God bevat.

Johan Kriel maak dieselfde punt en wys in sy brief dat die konsekwente deurtrek van die argumente van die evolusieteorie ook uitkom by die bevraagtekening van God.
Deur dié evolusionistiese bril word God self ook die produk van ons verstaan van Hom, ...(Johan Kriel, Kerkbode 13/08/07)
Dis inderdaad so, as ons 'n probleem met die skeppingsverhaal het,
  • dan hoe gemaak met die uittog (600 000 mense deur die woestyn vir 40 jr?)
  • hoe gemaak met die rooisee?
  • Jona, die maagdelike geboorte van Jesus, en al die wonderwerke in die Bybel
  • hoe gemaak met Jesus se opstanding (dit word alreeds weggeredeneer deur te sê dat dit nie fisies verstaan moet word nie)
  • en die uiteinde dan, is God en Jesus en die Heilige Gees maar net fiktiewe karakters in die Bybelverhaal.
Kriel meen dis die kerk se eie skuld dat dié goed nou op die tafel van die kerklike strukture is omdat die kerk dié teorië "omarm" het, maar ook omdat die Skrif almeer haar gesag verloor het. As die Bybel nie ons vertrekpunt is in gesprekke oor God nie, wat is? En as ons nie saamstem oor die gesag van die Skrif nie, kan ons eintlik nie met mekaar saampraat nie, want dan is daar geen gemeenskaplike bron vanwaaraf ons saam kan gesels oor etiese en kontensieuse sake nie. Nee inderdaad is Johan Kriel reg, ons sal eers weer saam moet bely : Sola Scriptura.

***

15 August 2007

Bybel Interpretasie

Die "kort" kritiek teen die teks-kritiese interpretasie-metode van die Bybel is gewoonlik dat hulle die Bybel weg-verklaar sodat daar uiteindelik niks meer normatief oor bly nie en die Bybel sodoende irrelevant raak. Hulle kritiek teenoor die meer konserwatiewe interpretasie is dat "ons" fundamentalisties is en die Bybel te letterlik neem.

Na die lees van Wedergestorwe Christen (WC) se Doktorale proefskrif, is ek van oortuiging dat sy (en daarmee gooi ek die hele nuwe hervorming in dieselfde mandjie) probleem ironies genoeg juis veroorsaak word omdat hy die Bybel té letterlik lees. Natuurlik gaan ek my geloof verloor as ek in die Bybel lees dat ek my dogter kan verkoop as slavin (Eks 21:7); of dat ek my buurman kan stenig as hy gras sny op sondae (Eks 35:2), om net maar 'n paar ekstreme voorbeelde te noem. Minder ekstreem is daar "probleem-tekste" en diskrepansies in die Bybel en as ek die Bybel letterlik gaan lees, soos WC dit doen in sy proefskrif, dan is dit wél moontlik om jou geloof te verloor in so 'n "vreemde", God.

'n Paar ander voorbeelde:
In WC se argument om te bewys dat God uiteindelik nie kan bestaan nie a.g.v. "basic contradictions regarding Yahweh's nature" (Gericke, 2003:39), haal hy tekste aan, m.i. buite konteks en onge-eksegetiseer. Hy skryf ...
En omdat God (vir hom) nie albei kan wees nie, is die enigste realisme-oplossing dat Hy nie bestaan nie, dat dit 'n gerekonstrueerde Godheid is deur die skrywers van die Bybel.

Die punt is egter - 'n verantwoordelike interpretasie van die Bybel is nodig! Ons moet onthou dat die Bybel nie los gelees kan word van die volgende interpretasie-faktore nie:
  • Lesers - Elke Bybelboek is geskryf met bepaalde Ontvangers in gedagte. Dit bring mee dat die manier hoe die inhoud weergegee word, so gedoen is dat dit inpas by die wêreld van die Ontvangers. 'n Mens kan maar net kyk na Paulus se verskillende briewe aan elke gemeente om te besef dat die Ontvangers se omstandighede / vrae / probleme die inhoud en styl bepaal. Dieselfde geld natuurlik vir die OT (vgl verskillende profesieë).

  • Skrywers - Elke Bybelboek is geskryf deur 'n persoon, en hoewel die Bybel God-geinspireerd is, beteken dit nie dat die persoon en sy persoonlikheid, opvoeding, leefwêreld, nering geignoreer word nie. Inteendeel, dit vorm juis die inhoud en styl van die boek. So sien 'n mens dat Lukas baie meer maak van die genesings-wonders as ander evangeliste omdat hy 'n dokter was. Dieselfde geld vir die verskillende aanslagte in elke OT Bybelboek. Dis geskryf deur verskillende skrywers. Geïnspireerd beteken dat hulle hul persoonlikheid behou het, maar dat God Sy Woord in hulle in "geadem" het, om dit so te noem.

  • Omgewing - Die omgewing waarin die skrywers én ontvangers geleef het speel 'n rol in die boodskap. Weereens hoef 'n mens net te kyk na Paulus se briewe om te sien watter invloed die leefwêreld gespeel het.

  • Tyd - Die Ontstaantyd speel "obviously" 'n rol in die vorm en styl van die boodskap. Die feit dat Paulus byv. vir ons geslag vreemde opmerkings oor die vrou en haar plek maak, bewys dié feit.

  • Doel / Vorm - Elke Bybelskrywer het 'n oogmerk gehad in die skryf van 'n boek, hetsy dit 'n geskieds-vertelling (kronieke, konings, handelinge) is, 'n lied (hooglied, psalms) is, poësie (psalms) is, 'n openbaring (daniël, openbaring) is, of 'n brief is. Dit behoort "obovious" te wees dat dit die inhoud en die manier hoe die inhoud aangebied word, sal bepaal.
Hiper konserwatiewes aan die ander kant, beweer dat só 'n konteks-interpretasie lei tot wegredenering van die Bybel. Máár, om die Bybel só te lees, binne konteks, is beslis nié om dit weg te redeneer nie. Dis juis 'n meer verantwoordelike manier om die Bybel te lees en te interpreteer en verduidelikings te kan gee waarom daar byv. 2 skeppingsverhale in Gen 1-3 voorkom wat in wese van mekaar verskil. Indien 'n mens nié bogenoemde faktore in aanmerking neem nie, is die verduideliking van WC dat God nie rêrig bestaan nie maar 'n konstruksie is van menslike sielkunde weliswaar 'n moontlikheid. Uit sy bogenoemde voorbeelde is dit duidelik dat hy inderdaad die tekste gelees het sonder om enige van bogenoemde interpretasie-faktore in aanmerking te neem; en uiteindelik het hy by 'n valse konklusie gekom.

Ek glo met my hele hart dat die Bybel sy normatiewe karakter behou, en ervaar geen dissonans om te glo in die Drie-Enige God wat Homself aan my openbaar het deur Sy Seun, Jesus Christus nie. En so bly die Bybel vir my die lewende ewige normatiewe Woord van God!



***