Na die lees van Wedergestorwe Christen (WC) se Doktorale proefskrif, is ek van oortuiging dat sy (en daarmee gooi ek die hele nuwe hervorming in dieselfde mandjie) probleem ironies genoeg juis veroorsaak word omdat hy die Bybel té letterlik lees. Natuurlik gaan ek my geloof verloor as ek in die Bybel lees dat ek my dogter kan verkoop as slavin (Eks 21:7); of dat ek my buurman kan stenig as hy gras sny op sondae (Eks 35:2), om net maar 'n paar ekstreme voorbeelde te noem. Minder ekstreem is daar "probleem-tekste" en diskrepansies in die Bybel en as ek die Bybel letterlik gaan lees, soos WC dit doen in sy proefskrif, dan is dit wél moontlik om jou geloof te verloor in so 'n "vreemde", God.
'n Paar ander voorbeelde:
In WC se argument om te bewys dat God uiteindelik nie kan bestaan nie a.g.v. "basic contradictions regarding Yahweh's nature" (Gericke, 2003:39), haal hy tekste aan, m.i. buite konteks en onge-eksegetiseer. Hy skryf ...
- dat Yahweh rus nodig het (Gen 2:2-3, Eks 31:17)
- ...en weer nie rus nodig het nie (Ps 121:4; Jes 40:28).
- dat Yahweh 'n "nasionale" Godheid is (Deut 4:19; Rigt 11:24; Ps 147:20)
- ...en weer 'n universele Godheid is (Amos 9:17; Dan 1-12; Job 1; Mal 1:11)
Die punt is egter - 'n verantwoordelike interpretasie van die Bybel is nodig! Ons moet onthou dat die Bybel nie los gelees kan word van die volgende interpretasie-faktore nie:
- Lesers - Elke Bybelboek is geskryf met bepaalde Ontvangers in gedagte. Dit bring mee dat die manier hoe die inhoud weergegee word, so gedoen is dat dit inpas by die wêreld van die Ontvangers. 'n Mens kan maar net kyk na Paulus se verskillende briewe aan elke gemeente om te besef dat die Ontvangers se omstandighede / vrae / probleme die inhoud en styl bepaal. Dieselfde geld natuurlik vir die OT (vgl verskillende profesieë).
- Skrywers - Elke Bybelboek is geskryf deur 'n persoon, en hoewel die Bybel God-geinspireerd is, beteken dit nie dat die persoon en sy persoonlikheid, opvoeding, leefwêreld, nering geignoreer word nie. Inteendeel, dit vorm juis die inhoud en styl van die boek. So sien 'n mens dat Lukas baie meer maak van die genesings-wonders as ander evangeliste omdat hy 'n dokter was. Dieselfde geld vir die verskillende aanslagte in elke OT Bybelboek. Dis geskryf deur verskillende skrywers. Geïnspireerd beteken dat hulle hul persoonlikheid behou het, maar dat God Sy Woord in hulle in "geadem" het, om dit so te noem.
- Omgewing - Die omgewing waarin die skrywers én ontvangers geleef het speel 'n rol in die boodskap. Weereens hoef 'n mens net te kyk na Paulus se briewe om te sien watter invloed die leefwêreld gespeel het.
- Tyd - Die Ontstaantyd speel "obviously" 'n rol in die vorm en styl van die boodskap. Die feit dat Paulus byv. vir ons geslag vreemde opmerkings oor die vrou en haar plek maak, bewys dié feit.
- Doel / Vorm - Elke Bybelskrywer het 'n oogmerk gehad in die skryf van 'n boek, hetsy dit 'n geskieds-vertelling (kronieke, konings, handelinge) is, 'n lied (hooglied, psalms) is, poësie (psalms) is, 'n openbaring (daniël, openbaring) is, of 'n brief is. Dit behoort "obovious" te wees dat dit die inhoud en die manier hoe die inhoud aangebied word, sal bepaal.
Ek glo met my hele hart dat die Bybel sy normatiewe karakter behou, en ervaar geen dissonans om te glo in die Drie-Enige God wat Homself aan my openbaar het deur Sy Seun, Jesus Christus nie. En so bly die Bybel vir my die lewende ewige normatiewe Woord van God!
***

No comments:
Post a Comment