11 August 2007

Gereformeerd en Afrikaans

Ek het 'n bietjie rondgeblaai op die iNet, op soek na kommentaar oor die nuutgestigte EI (Evangelisasie Inisiatief) van oa. Drs Adrio König, Hoffie Hofmeyer en Johan van Schalkwyk.  Uiteindelik is daar ook hoë profiel kerkmanne wat hul stem dik maak teen die "Nuwe Hervormers" (hulle is natuurlik glad nie "nuut" nie; dié dwaalleringe wat hulle tans kwyt raak is al so oud soos die Bybel self.) van die kweekskole, maar veral dié van Tukkies.!

Tukkies se dosente is 'n jaar of wat by hul ringe aangekla deur 'n lae profiel student.  Sonder om die meriete enigsens te probeer beoordeel, het die uitslag van die Kuratorium "gestink".  Soos Tom Lessing van Krugersdorp-Noord tereg die ander dag in die Kerkbode geskryf het:
Sê die Bybel dan nie juis dat wanneer ons die leer van Jesus Christus suiwer en onvervals verkondig, ons nie kop onderstebo moet gaan sit en onsself moet bejammer wanneer ons naam in die gedrang kom ter wille van Sy heilige Naam nie? Waarkynlik glo die teologie-professore aan die UP dat hulle die leer van Christus suiwer verkondig. As sodanig moes hulle eerder van blydskap opgespring het toe mnr Mulder hulle naam in die gedrang gebring het. Naamskending in die sekulêre wêreld is ’n baie ernstige oortreding, maar as ons getrou wil bly aan die Bybelse riglyn met betrekking tot naamskending ter wille van die onvervalste en suiwere verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus dan behoort Christene dit as eer en ’n voorreg te beskou om vir Sy Naam te ly. 

(Aangehaal vanuit die Kerkbode. Die briefksrywer vra 'n paar ander lastige vrae oor die proses, werd om te lees.  Die volledige brief kan hier gelees word 
www.kerkbode.co.za/kerkbode/brief.asp?id=586
)
As dit dan sou blyk dat die teologie professore steeds die onverdunde, onbevlekte waarheid van die Woord verkondig, dan behoort hulle en die aanklaer bly te wees oor die uitslag en in vrede saam die pad verder stap, wat natuurlik hier nie eens naastenby die geval is nie.  Trouens, die lae profiel student is "ge-ekskommunikeer" (en ek dag ons is anders as die RKK). Nietemin, hulle is "onskuldig" bevind en dié hoër profiel kerkmanne wys met die EI nou weereens tereg uit, dat iets nie pluis is nie; sommer ook nie met die Kuratorium en sy kommissie nie.

Maar wag, ek wil nog uitkom by die Gereformeerd en Afrikaans (GA). Terwyl ek so rond blaai, kom ek af op 'n webwerf genaamd www.gereformeerdenafrikaans.co.za. By die eerste oogopslag was ek nogal opgewonde want skielik sien ek 'n uitkoms vir die talle lidmate wat net nie meer kan inval by die kerk en sy strukture en dwalinge nie (ek het vroeër geskryf dat die Alg Sin moet ontbind - sien een van my "posts"). Maar my opgewondenheid was maar van korte duur, want terwyl ek so 'n bietjie meer te wete probeer kom, vind ek 'n ander gees; 'n gees van "genadedoders" (die wat nie die term ken nie, dit is afkomstig van Charles Swindoll se boek Grace Awakening - beslis iets om te lees!).

In kort beteken gendadedoders dat ons almal uit GENADE gered word. Die verdere implikasie van die sola gratia is dat ons vry gemaak is om te kan KIES. Voor redding volg ons instinktief ons sondige natuur. Na redding uit genade het ons die keuse om in daardie slawerny (my sondige natuur) voort te bly leef, of te kies om gehoorsaam te wees (Lees gerus Rom, Gal, Eff). 'n Genadedoder is dan iemand wat 'n nuwe stel reëls vir jou gee om aan te voldoen, terwyl ons niks kan bydra tot ons redding nie (Eff 2:8-10). Genadedoders is dan lief daarvoor om ons as "nie-christen" te klassifiseer omdat ons nie aan hierdie nuwe stel mensgemaakte reëls voldoen nie.  Dit noem Charles Swindoll 'n "Grace Killer"

('n Meer breedvoeriger weergawe is op my "posts" beskikbaar).
In elk geval..., terug by die GA, gaan lees ek toe meer oor wie hulle is. "Wie is ons" kan ek heeltemaal mee saam gaan. Ons is eers gereformeerd voordat ons afrikaners is. Vir my JA, maar natuurlik beteken gereformeerd in hierdie konteks my nuwe mensheid/identiteit IN CHRISTUS, nie bloot 'n teologiese denkrigting van gereformeerdheid nie. Want ek kan gereformeerd wees sonder om 'n verhouding met Jesus te hê (wat dikwels gebeur). Wat ek van hulle hou is dat ons identiteit as Christen voor ons Afrikanerskap staan - my nuwe identiteit bepaal dus my Afrikanerskap, en nie andersom soos ons in ons eie land sien gebeur het nie.  Ek haal aan vanaf hulle webwerf:
As ons sê dat ons Gereformeerd is bedoel ons eenvoudig dat ons die Bybel onvoorwaardelik aanvaar as die onfeilbare Woord van God. Ons staan dus vir die G van NG. U sal opmerk dat ons dus doodgewoon ware Christene wil wees en so wil leef. Die gereformeerde belydenis is dus ook vir ons baie belangrik. Om te bely beteken om dit wat die Here in die Woord sê, agter Hom aan te sê en van harte daarmee saam te stem. Verder is ons Christene wat baie lief is vir die Afrikaner volk, want die meeste van ons is self Afrikaners (lees: Nederduitsers). Maar om Christene te wees, waarvan ons glo dat die Gereformeerde leer die suiwere leer van God se Woord is, is vir ons verseker duisendmaal belangriker as ons Afrikanerskap. Daarom wil ons eerder geken word as Christen Afrikaners, as Afrikaner Christenne. Die persoon of organisasie wat Afrikanerskap belangriker maak as om 'n Christen te wees verafgod eenvoudig sy Afrikanerskap. Die woord Afrikaans in ons naam verwys veral en spesifkief na die Afrikaanse taal.
En natuurlik sê hulle, soos ek, dat apartheid on-Bybels is en nooit deur die kerk geregverdig moes word nie (meer hieroor ook op 'n ander "post"). Verder het ek gehou van hulle "Wat wil ons regkry"-blad nl. om alle mense wat Afrikaans praat, op te roep tot 'n ware geloof in Jesus Christus! Ek hou van hulle "Teologiese beleid-blad", ens. Waarvan ek NIE gehou het nie, was hulle "Muur van Skande-blad".  Trouens, dis hier waar ek 'n "vreemde" gees, "grace-killing" ervaar het, want hoewel ek "verstaan waarvandaan die oogmerk vir die blad kom", is dit beslis nie gepas om ander sleg te sê nie.
  • Dit getuig eerstens nie van liefde nie,
  • dit is nie my werk as gelowige nie,
  • en ek is self nie so "skoon/goed" (Rom 3:20) nie.
In lyn hiermee vind ek ongekwalifiseerde kritiek op Dr Adrio König. Uit die paar opmerkings wat ek op dié blad gelees het, was dit vir my duidelik dat Lukaris nie Adrio König gelees of verstaan het nie, en klaar bevooroordeeld is oor alles waarby Adrio König betrokke is. Ek haal 'n paar aan:
Hoewel die teenwoordigheid van veral Adrio Konig in die EI, die sogenaamde Evangeliese faksie se integriteit ernstig belemmer. Konig is openlik anti-familie, dus pro-homoseksueel (sodomities) in sy siening. Konig glo ook nie in die voorsienigheid van God soos dit in die gereformeerde belydenisskrifte in ooreenstemming met die Bybel staan nie.

Almal weet dat Professor Konig sedert 2005 al openlik sodomie (homoseksualiteit) verdedig. Luister na sy uitsprake in ‘n onderhoud met LitNet se Rudi Buys in Julie 2005

"Wat weerhou u self daarvan om tot 'n gevolgtrekking te kom oor homoseksualiteit?
Niks. Ek het reeds in artikels in Beeld en elders duidelik standpunt ingeneem dat twee selfdegeslag-persone wat aan mekaar getrou is, nie deur hulle seks iets onbehoorliks doen omdat hulle van dieselfde geslag is nie."

Buiten Konig se bogenoemde uitsprake weet almal ook dat hy God se almag ontken as hy beweer dat God soms sukkel om Sy wil te laat geld op aarde. Dit het alles te make met Konig se siening van God se voorsienigheid.

Op 3 verskillende artikels word (ongekwalifiseerd) na Adrio König verwys as anti-familie, pro-sodomie. 'n Breedvoerige artikel deur Lukaris oor Adrio König en die EI is hier te lees.

(soos aangehaal op www.gereformeerdenafrikaans.co.za

Dié styl maak my onrustig oor Gereformeerd Afrikaans. Steeds is daar 'n behoefte vir 'n "nuwe" kerk;
  • een wat nie die bagasie van die apartheids-verlede met hul saamdra nie
  • een wat nie talle die dooie hout saam hoef te sleep nie
  • een wat getroue is aan die eeu-ou gereformeerde beginsel van "soewerein in eie kring"
  • een wat eg gereformeerd wil leef voor die aangesig van God
  • een wat die Bybel weer Bybel wil laat wees sonder om die Bybel fundamentalisties te lees - dit verg eerlike en verantwoordelike Bybel interpretasie

Soos iemand elders gevra het: Gesoek! Moderne Martin Luthers!

***

No comments: