Dis gevaarlik om kerk toe te gaan as :
- die preek nie is wat die teks wou sê nie. Die teks was die gedeelte oor die ongelowige Thomas wat eers wou glo as hy sy vinger in Jesus se hande kan steek; en toe wel die geleentheid daartoe kry. Sluit dan af met die belydenis: "My Here en My God".
Die preek, met 'n verwysing na Hebr 10:28, daarenteen het gegaan oor- hoe belangrik dit is dát ons kerk toe moet gaan
- hoe 'n mens nié kerk toe moet gaan nie
- en hoe 'n mens wél kerk toe moet gaan
- die preek bedoel is om 'n mens skuldig te laat voel. Ons word immers uit genade gered en is derhalwe vrygemaak van mensgemaakte "moets en moenies" oor geloof (sien blogs oor genade).
Op een punt is gesê dat ons eintlik reeds saterdagmiddag, soos die sabbat van Israel, moet begin om ons gereed te maak vir die erediens sondag. Ek het begrip vir die gedagte, maar dis 'n verkeerde klem. Keer ons dan nou terug na die gedagte dat 'n Sondag anders as alle ander weeksdae is en God net dáár ontmoet kan word? Dis waar Jesus se vervulling van die wet (anders gestel, wettisisme), 'n verskil kom maak het.
Die ander bekende manipulasie-uitspraak om mense te verhoed om kerk te skip is om te sê dat die Here met jou 'n afspraak het. Ek koop nie meer dié gedagte nie omdat ek in 'n persoonlike verhouding met Jesus is (en dus God as Vader het). Ek en Hy is dus gereeld met mekaar in gesprek en hoef dus nie 'n afsrpaak met mekaar te hê nie. Ek mag dalk 'n afspraak met mede-geloofsgenote hê, maar dis iets anders! Kerk is bedoel om 'n bevrydende geleentheid te wees, nie 'n verswarende, bedrukkende een nie.
Die ander opmerking was dat ons nie kerk mag skip om wildtuin toe te mag gaan nie. Met so 'n erediens soos vanoggend, sou die wildtuin 'n beter "erediens" gewees het as die kerk self. Natuurlik kan ons 'n ontmoeting met God hê in die natuur. Daar is immers verskillende spiritualiteite (sien Rick Warren hieroor - ek sal later hieroor blog). - jy onvervuld en omgekrap daaruit stap omdat jy geestelike gemanipuleer is, oftewel Bible bashing ervaar het.
Ek sal nie ophou kerk toe gaan nie. Dis net jammer dat soveel gelowiges nie die vryspraak in Christus in vreugde kan beleef, wat deur die genade bewerkstellig is, omdat te veel preke eerder daarop uit is om ons te laat skuldig voel, te belas, as om ons vry te maak en vry te spreek.
***